So tussen die grafte deur loop ons, party toegegroei met dorings, vol grasse en onversorgd, maar uituindelik vind ons Lovisa, die oudste suster van my ouma grootjie, Carolina Hendrik Labuchangne, afgelei van die Franse van La Buschagne. Franse bloed ja ek het franse bloed, gin wonder ek voel so diep aantrekking tot franse musiek en die taal nie. Elke graf kry 'n rooi roos en wierook vuurtjie, 'n kort gebedjie en roos water.
My groot oupa Frederik Jakobus Andries Christoffel Labuschagne het die eerste pad tussen Ventersdorp en Potchefstroom gemaak met osse en 'n wa, ten vergoeding daarvoor is hy betaal, en met die geld het hy 'n groot stuk grond in die Witpoort area. Elkeen van die Labuschagne kinders het 'n stuk grond gekry. Ons ry die pad en ek voel hoe ons terug gesuig word in 'n vakuum van gister. Ek en my oom Chris loop die 1ste plaas plat opsoek na die graf van die oudste suster. Beesmis, bloekom en rooi grond ruik kalmte deur my siel. My voete sak diep in die droe dors grond in, die dorings steek kort kort deur my strand plakkies wat ek heel verkeerdelik ingepak het. Vellies of harde sool skoene dis wat mens daar nodig het. Die plase skiet stories deur my soos ek die wilde meerkatte sien hol oor die grasse. Groot ou plaas hekke word oopgemaak en toegemaak sodat die beeste nie wegdwaal nie. Die dam is nou leeg wat my oom Feel gemaak het op my ouma grootjie se plaas. Hier was die sitkamer, wys my oom in die ou vervalle huis wat wragtig nog staan, nou staan ek in ouma Lien se kamer, al haar kinders het ook saam haar daar geslaap se hy.
Ek wonder waar het sy die porselein tee stelletjie gebere in die huis, die stelletjie wat nou in my kombuis staan, wat ek geerf het oor ek dieselfde aarbei rooi hare gekry het as sy. Een maand na my geboorte sterf my ouma grootjie Carolina Hendrika Buitendag. My ma het my altyd vertel dat ouma Kalie soos hul haar genoem het net gewag het om my te sien toe gaan sy oor na die na lewe.
Dis stil by die grafte en 'n groot rustigheid kom oor my, ek voel uiteindelik ek hoort erens. Ons besoek seker maklik 10 klein begrafplasies. Ek le rose neer op al die grafte van my ouma grootjie se susters en broers. Hul was elf kinders. Een het in die Boere-oorlog gesterf en die res het elkeen 'n plaas gekry langs mekaar. Die grafte praat met my, die volk wemel van blydskap oor ons besoek en soos ons weg ry sien ek hul dansend wuif en sing tot weer siens ons kinders.
Ons lag ek en my oom, soos ons wegry, ons is nou graf opspoorders. Die rooi rose op die grafte vul die lug met 'n soet reuk en ek hunker na familie soos nooit tevore nie, ek smag na my kultuur en my taal, nooit weer sal ek vergeet wie ek is nie.
Die eerste Labuscaigne van my stamboom was Abram uit Frankryk, en het hier aangekom in die 1600. Ek sal later meer informasie oor die stambome gee.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.